Wednesday, 6 January 2016

'n Ope Brief aan Johandre Potgieter

Geagte Johandre Potgieter,

Kom ons praat...

Jou video "Hoekom reën dit nie in Suid Afrika nie?" het al oor die 200 000 kyke in die afgelope 2 dae gekry, en ek kan dink hoe trots jy moet voel.  Ek meen, die Here het immers met JOU gepraat, en vir JOU vertel die droogte in die land is te danke aan die "geestelike droogte wat oor die volk van SA gekom het".
Ek verstaan jy moes jou argument steun deur 'n reeks tekste in die Bybel aan te haal, en dan moes jy die voorbeeld ook gebruik van die vrou wat in 'n kwessie van 2 maande in drie verskillende Kerke was.  Jy't haar genader en gevra hoekom sy so tussen Kerke is, en sy't pleinweg haar opinie gegee en gesê:  "want ek wil kan gaan waar ek goed voel oor myself".  Dis hier waar hierdie groot "probleem" vir jou begin kop uit steek het.

Johandre, dis egter nie jou video wat my so ontstel het, dat ek my eie geloof bevraagteken nie, maar eerder die kommentaar wat mense op jou  video gelos het.  Die ironie in hierdie saak is:  JY het die video gemaak, en kan lekker agter oor sit, terwyl sommige jou prys, ander met jou stry, en dan takel Christene mekaar.  Jy voel maar ewe te veel in jou tjops, want jou video is al oor die 20 000 keer geshare (soos jy gevra het) en jy't iets soos 5000 "likes" op jou blad gekry binne een dag (soos jy gevra het).

Maar kom ons raak gou bietjie ernstig oor hierdie "geestelike droogte" waarna jy verwys.  Ek sal nou sommer ook my voorbeeld in die emmer gooi:  Die oomblik nadat iemand bv. verkrag word, is daar baie vrae.  Vrae wat niemand kan antwoord nie.  Hierdie persoon "dwaal dalk van die pad af", begin drink, rook en vloek, want niemand verstaan nie.  Die persoon wil vir 'n rukkie lank nie Kerk toe gaan nie, en wil definitief ook nie bid nie.  Oh griet!  So hierdie persoon het seker nou 'n "geestelike droogte" dis hoekom God hierdie persoon so "straf".

Tydens die tweede wêreld oorlog, is 'n getal van 6 miljoen jode uitgewis.  Vir geen rede nie.  Net omdat hulle bloot "Jood" was.  'n Joodse dogtertjie word in 'n huis groot waar sy nie iets anders ken nie.  Sy stap in 'n gaskamer in nadat haar pa en broer voor haar doodgeskiet is.  Sy's ook "gestraf".  Sy't dus seker ook 'n geestelike droogte gehad?

Ek dink nie ek dien dieselfde God as wat jou aanhangers dien nie.  Die God wat ek ken, weet ek is 'n mens wat foute maak, en al geleer het dat die Bybel meer as 2000 jaar terug geskryf is.  Hy weet ook dat ek 'n gesonde verstand gekry het om sekere aanpassings in my omgewing en manier van dink te maak.  Hy weet ook dat ek nie verkeerd is om na Fokofpolisiekar te luister, en vrae oor geloof te vra nie. Hy weet ook dat ek GEEN reg het om ander te oordeel volgens hul geloofsoortuigings of keuses wat hulle in die lewe maak nie.  Al wat ek hieraan wel kan doen, is om saam met hierdie persoon 'n glas rooiwyn te drink en te vra oor waarin hulle glo (of nie glo nie), sodat my klein wêreld kan verbreed.

Ek wil jou uitdaag om 'n video te maak met 'n titel soos:  "Christene het nie 'n reg om enige iemand te oordeel nie".

Nou moet jy my verskoon terwyl ek gou "skyn (heilig)" van Fokofpolisiekar, in rus en vrede kan klaar luister.

Groete,

Corlia Wilkens